Bobby word gou pa
2011-10-24 08:48
Kaapstad – Die Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld en sy vrou, Annatjie, behoort later Maandag 'n babaseuntjie ryker te wees, het Huisgenoot berig.
Die paartjie het gehoop op 'n natuurlike geboorte, maar teen Maandagoggend het die nuweling nog nie sy verskyning gemaak nie.
Bobby het Sondagaand op Twitter gesê: "Nou ja, as Sion nie vanaand kom nie, moet ons Maandag drie-uur keiser. Ons sukkel om te slaap vanaand. Ons koppe werk deur baie goed. Maar God is in beheer," het Van Jaarsveld geskryf.
Annatjie sal na verwagting 15:00 'n keisersnee ontvang.
Boodskappe van gelukwensing en sterkte het Sondagaand en Maandagoggend vir die Van Jaarsveld-gesin ingestroom op beide Facebook en Twitter.
Die seuntjie, Sion, is die paartjie se eersteling. “Ons het al klaar besluit op sy naam – Sion. Dit beteken om die hoogste roeping te bereik, sterk staan soos ’n berg en ook hemels. Die naam kom van die berg Sion in die Bybel,” het Bobby vroeër aan Huisgenoot vertel.
Die verwagte aankomsdatum van die nuwe pienkvoet was reeds vroeg hierdie maand.
Hier is 'n sonarfoto van Sion wat Bobby onlangs op Facebook gedeel het:

– Volg Nuus24 op Twitter.