Bloedtoets-uitslae ‘sal sanger se dronkrysaak laat sloer’
2010-08-17 07:19
Die Burger
Kaapstad - Die sanger van die groep Just Jinger kan sowat twee maande wag voordat die dronkbestuursaak teen hom in die Kaapse landdroshof voorkom.
Ard Matthews is Saterdagoggend vroeg aangekeer nadat hy in ’n motorongeluk in Buitengracht in die middestad betrokke was.
Maandag het sy regsverteenwoordiger, William Booth, in die Kaapse landdroshof gevra dat die saak van die hofrol verwyder word tot die uitslag van die bloedtoetse bekend is. “Ons kan tot ses maande vir die uitslae van die bloedtoetse wag.”
Die versoek is toegestaan.
Dit was nie nodig dat Matthews self in die hof verskyn nie.
Volgens kapt. Ezra October is dit moeilik om te voorspel wanneer die uitslae reg sal wees.
“Dit kan twee maande of selfs langer neem om die uitslae van die laboratoriums terug te kry.”
Matthews het Saterdag borgtog van R500 by die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor betaal en is op waarskuwing vrygelaat. Hy is enkele ure lank aangehou.
Die ongeluk het omstreeks 04:50 gebeur toe Matthews se bakkie ’n voorwerp langs die straat getref het.
Sy verloofde, die model Landi Swanepoel, het hom by die polisiekantoor gaan haal. Sy het glo die R500 betaal sodat hy vrygelaat kon word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger