Bloed spat in 3D
2009-10-04 22:16
Leon van Nierop
Gruwelkomedie
Final Destination 4
Daar is baie waaiers in hierdie gruwelrolprent – meer dakwaaiers as in die hele Apocalypse Now.
En elke lem is ’n tweesnydende swaard wat iemand nes in The Omen met een swiep kan onthoof.
Daar is ook genoeg vlak water vir mooi tieners om in te verdrink. En nou praat ons van water waarmee motors gewas word!
Weet dus: Ons het hier met ’n stewige stukkie absurditeit te doen en die enigste manier om dit te oorleef, is om daarvoor te lag.
En dan is daar vleis. ’n Mens moet beslis nie gaan kyk voordat jy om ’n vuurtjie staan om ’n tjoppie te braai nie. Want sodra die aksie ’n bietjie taan, drup die rooi vleis, goedgaar of net skrikgemaak, van rollende masjiene op ons skote.
Hierdie nare fliek floreer dus op clichés, want daar is net sóveel maniere waarop karakters bloedig kan sterf om 3D te regverdig.
En die regisseur gebruik elke cliché tot vervelens. Tafels wankel alewig sodat brandstof op ontvlambare materiaal kan uitstort, krake verskyn onverwags in mure en motors gly aanhoudend op oliekolle om chaos te saai.
Die suksesresep van die rolprent is dus: Watter gruwel gaan iemand se dood veroorsaak en wanneer speel die regisseur net kat en muis met ons?
Wanneer gaan die karakters die gruwels ontkom? En wanneer gaan hulle omkom?
Die held is Die Dood, wie se sens deurgaans deur vleis klief. Hy loer selfs om die hoek as ’n dolla haar hare laat doen, dus weet jy nooit wanneer hy gaan toeslaan nie.
En aan wie se kant is die gehoor?
Beslis Die Dood, want hy sorg dat die een slagting meer kleurvol as die volgende is. Daarom weet jy by voorbaat om te koes vir die skerp houtkruise wat mooi jong mense deurboor, of om met jou sakdoek te keer as ’n liggaam deur ’n masjien opgekap word sodat die stukke vleis langs jou ore verbyvlieg.
Dit is miskien die ergste: Dat mense steeds betaal om te kyk hoe hul medemens grusaam vermoor word.
Die Christene wat destyds vir die leeus in die Colosseum gegooi is en ons wat bymekaarkom om na bloedige moorde te kyk, net in nabyskote, lyk maar bra dieselfde.
Nes die ander hoofstukke gaan die vierde Final Destination oor ’n oulike jong man met goeie maniere wat voorbodes kry wat hom waarsku om betyds te vlug voor rollende vuurballe. Maar sy tyd het aangebreek en Die Dood soek geselskap.
Hoe lank kan hy sy lot in drie dimensies vermy?
Dat komedies deesdae so bloedig moet wurg om ’n grinnik uit ons te kry ...
Hoofspelers: Bobby Campo en Shantel Van Santen. Regisseur: David. R. Ellis. Tydsduur: 80 minute. Ouderdomsperk: 16GNTS.