Bieber neem YouTube oor in 2010
2010-12-15 12:42
Los Angeles. – Met meer as 400 miljoen besigtigings was Justin Bieber se trefferliedjie “Baby” vanjaar nommer een op YouTube, terwyl vier ander van sy treffers ook die Top 10 gehaal het, het dié video-webwerf Maandag bekend gemaak
“Never Say Never”, “Never Let You Go” en “Somebody to Love Remix” was die ander Bieber-video’s wat YouTube se Top 10 gehaal het.
’n Jong man van Alabama wat ’n hartstogtelike TV-onderhoud gedoen het oor plaaslike misdaad was die gewildste YouTube-video buiten dié wat deur die groot musiekmaatskappye gemaak is.
“Bed Intruder Song”, ’n hervermenging van lirieke deur Antoine Dodson (24) en met musiek van ’n lied deur die New Yorkse musici Evan en Michael Gregory, is 60miljoen keer gekyk. Dié lied het ook op die iTune-lys verskyn en die inkomste hiervan het Dodson gehelp on ’n nuwe huis te koop.
Ander YouTube-gunstelinge sluit in ’n parodie van sanger Ke$ha se treffer “Tik Tok”,genoem “Key of Awesome #13”, en ’n tuisvideo van Greyson Chance (13) wat sy weergawe van Lady Gaga se“Paparazzi” by ’n skool se musiekaand sing.
“YouTube het die wêreld se dorpsplein geword – ’n plek waar kultuur geskep en gedeel word,” het me. Mia Quagliarello, YouTube se gemeenskapsbestuurder, gesê.
“Dis ’n teken van YouTube se groter wordende belangrikheid as ’n platform vir die skep van inhoud dat ses van die toptien- video’s wat wêreldwyd die meeste gekyk is, oorspronklik vir YouTube gemaak is.”
YouTube het gesê meer as 13 miljoen uur se video’s is in 2010 op die web gelaai.
Reuters Life!