Bieber gedagvaar oor lawaai by vertoning
2012-07-13 18:45
Los Angeles – Justin Bieber word vir $9,23 miljoen (R76,8 miljoen) gedagvaar deur ‘n vrou wat beweer die geraas van die skare by een van sy konserte het permanente skade aan haar gehoor aangerig.
Stacey Wilson Betts het haar dogter twee jaar gelede geneem om Bieber se vertoning in Portland, Oregon, by te woon.
Betts beweer in die hofsaak aanhangers se gegil was oorverdowend, het die webwerf TMZ.com berig.
Die 18-jarige sanger het die geraasvlakke glo laat toeneem toe hy in ‘n “hartvormige aluminium/staal-gondel” geklim het wat oor die skare gehang het.
Die aanklaer sê in die dokumente hy het “’n golfeffek van gille veroorsaak deur na verskillende seksies van die arena te draai. Hy het die skare dan uitgelok om te skree deur sy arms voortdurend in ‘n vinnige, opwaartse beweging te waai.”
Sy het bygevoeg dat die gondel as ‘n “klankgeleier” opgetree het wat haar ore permanente skade aangerig het.
Betts beweer nou sy ly aan tinnitus, wat ‘n konstante suising in die ore veroorsaak wat dit moeilik maak om te slaap.
Sy kla ook van ander gehoor-verwante skade.
Bieber, sowel as sy platemaatskappy, die konsert se promotor en die arena word gevra om die skadevergoeding te betaal.
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz