Bieber-aanhanger dalk in die sop oor seks
2011-11-04 10:07
Los Angeles – Die vrou wat beweer die sanger Justin Bieber is die pa van haar babaseun kan dalk aangekla word omdat sy seks met ‘n minderjarige gehad het.
Die 20-jarige Mariah Yeater beweer sy en Bieber, wat ten tyde van die beweerde voorval 16 jaar oud was, het by een van sy konserte seks in ‘n badkamer gehad.
Alhoewel geen saak nog aanhangig gemaak is nie, het kommandeur Andrew Smith van die Los Angeles-polisie Donderdag aan die nuusagentskap Associated Press (AP) gesê dat die departement ‘n saak kan open nadat Yeater vir Bieber gedagvaar het om ‘n vaderskaptoets te laat doen.
“Indien dit onder ons aandag gebring word, sal ons daarna kyk,” het Smith gesê.
Volgens Yeater het sy pas 19 jaar oud geword toe sy en die 16-jarige Bieber intiem verkeer het tydens sy konsert by die Staples Center in Los Angeles.
Sy het in Julie aan ‘n seun geboorte geskenk en glo Bieber is die kind se pa omdat sy in daardie stadium na bewering met geen ander mans seks gehad het nie.
Sy vra die hof vir ‘n kindertoelae, en ook dat Bieber ‘n vaderskaptoets moet doen. ‘n Verhoor is vir 15 Desember geskeduleer.
Bieber ontken egter bewerings dat hy die pa van die kind is.
Dit is onwettig in Kalifornië om seks met iemand te hê wat onder die ouderdom van 18 is. Indien die ander persoon nie drie jaar ouer is nie kan hy/sy tot ‘n jaar tronkstraf gevonnis word.
Een van Yeater se prokureurs, Matthew Pare, het gesê die feit dat Bieber minderjarig was ten tyde van die voorval is heeltemal ‘n ander kwessie.
Volgens hom is hy en sy kliënt nog nie deur die owerhede of deur enigeen wat Bieber verteenwoordig, gekontak nie.
Hy sê Yeater is tans werkloos en soek ‘n kindertoelae indien die vaderskaptoets wel bewys hy is die pa.
“Dis belangrikste vir ons kliënt is om haar baba in te lig wie sy pa is.”
Yeater het nog nie enige betalings van die media ontvang sedert sy die bewerings bekendgemaak het nie.
Die 17-jarige Bieber is tans in ‘n verhouding met die 19-jarige sangeres Selena Gomez. Gerugte oor dié twee se verhouding het in Desember 2010 die ronde begin doen, twee maande nadat die beweerde voorval met Yeater plaasgevind het.
E-posse wat na Bieber en Gomez se woordvoerders gestuur is vir kommentaar is nie onmiddellik beantwoord nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP