Beyoncé verwag glo dogtertjie
2011-10-27 14:36
Los Angeles – Die sangsensasie Beyoncé en haar man, Jay-Z, wat tans hul eersteling verwag, het glo uitgevind dit is 'n dogtertjie.
Volgens 'n vriend na aan die paartjie was Beyoncé baie opgewonde toe sy uitvind dis 'n dogtertjie want sy wil hê hulle moet dieselfde band hê wat sy met haar ma gehad het.
Sedert sy uitgevind het dis 'n dogtertjie het Beyoncé baie klere vir die ongebore baba begin koop.
"Haar familie is bekommerd daar gaan nie enigiets vir hulle wees om te koop vir die ooievaarstee in Desember nie," het 'n vriend gesê.
Die 30-jarige Beyoncé het onlangs bekendgemaak sy is glad nie bekommerd om 'n ma te word nie en sover gaan dit goed met haar swangerskap.
"Ek is nie senuweeagtig nie omdat ek weet dit gebeur op die regte tyd. Ek voel ek het op die regte tyd getrou en nou kry ons die baba op die regte tyd. Ek voel ons is nie haastig met enigiets nie en word nou op 'n natuurlike manier met alles geseën," het Beyoncé gesê.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.