Bewyse teen Murray 'oorweldigend', sê aanklaer
2011-11-03 22:55
Los Angeles – Die bewyse teen Michael Jackson se dokter,
Conrad Murray, is “oorweldigend”, het die adjunk-distriksprokureur in sy slotrede
gesê.
David Walgren het
gesê dat Murray se verbreking van ‘n “heilige vertroue” tussen dokter en pasiënt tot Michael Jackson
se dood gelei en drie kinders van hul pa ontneem het.
“Die bewyse is oorweldigend... dat Conrad Murray krimineel nalatig opgetree het,
dat hy Michael Jackson se dood veroorsaak het, dat Conrad Murray vir
Prince, Paris en Blanket van hul pa ontneem het.
“Vir hulle kom dié saak nie vandag of more tot
‘n einde nie. Vir Michael Jackson se
kinders sal dié saak vir ewig aangaan,” het Walgren gesê.
Conrad Murray (58) word daarvan beskuldig dat
hy die dood van Michael Jackson veroorsaak het deur vir hom ‘n oordosis
propofil saam met ‘n hele paar ander susmiddels in te gee.
Die verdediging se argument was dat Jackson ‘n
desperate dwelmverslaafde was wat sy eie dood veroorsaak het.
Hulle voer aan dat Jackson op die dag van sy
dood ekstra medisyne geneem het nadat Murray sy sy verlaat het.
Walgren het egter die
jurie daarop gewys dat die dokter in beheer was en dat hy nié sy
verantwoordelikheid kan ontsnap nie.
“Die dokter is die een wat die besluite neem,
wat die mediese kennis dra en wie se besluit op die ou end ten goede van die
pasiënt behoort te wees,” het Walgren geredeneer.
“Dit is ‘n dokter se heilige plig om in die
eerste plek geen kwaad te veroorsaak nie.
“Conrad Murray het elke liewe dag versuim om
sy heilige plig na te kom.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP