Beste van die Weste by Suidoosterfees
2010-12-06 14:35
Kaapstad – Vir toneelliefhebbers begin 2011 op 'n hoë noot met Die Burger se Suidoosterfees.
Die hoofdoel van hierdie fees is om 'n bekostigbare, toeganklike, Afrikaans-georiënteerde kunstefees van wêreldgehalte in die hart van die Kaap aan te bied - vir 'n ieder en 'n elk.
Die agtste Suidoosterfees vind van 25 tot 30 Januarie plaas, weer in die Kunstekaap-operahuis en -teater.
Vroeër vanjaar het die Weskustoneelfees op Vredendal plaasgevind.
Verskeie hoërskool- en gemeenskapsgroepe het aan dié fees deelgeneem, waarna die vier beste produksies op die fees genooi is om aanstaande jaar op die Suidoosterfees op te tree.
Die wen-toneelstukke van die Weskustoneelfees is Die sisteem se optimis (die Hoërskool Swartland), Skinnery (die Hoërskool Vredendal), Soek oz dit soe! (Com.Net Drama Groep van Clanwilliam) en Joanie Galant: Uthando for theatre (Malmesbury-gemeenskapsgroep).
Besoekers aan die Suidoosterfees sal Dean-John Smith en Sanchia Davids, wat as onderskeidelik die beste akteur en die beste aktrise op die Weskustoneelfees aangewys is, in Joanie Galant: Uthando for theatre kan sien.
Keith Parring van Soek oz dit so is aangewys as die beste akteur in 'n ondersteunende rol en Michelle de Villiers en Andriette Vermeulen, regisseurs van Skinnery, het die beste in hierdie afdeling gepresteer.
Benjamin Bock, 'n beampte van die Weskustoneelfees, is baie beïndruk met die talent wat dié fees opgelewer het.
Die feit dat die fees jaarliks meer inskrywings lok, bewys dat al hoe meer mense nader gewink word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Jip