Bekkige podiumdigter terug in SA
2010-07-08 14:10
Kaapstad - Aktivis en verhoogkunstenaar Staceyann Chin is terug in die Baxter-teater, Kaapstad, met Border/Clash: A litany of desires.
Chin, wat 'n Tony-toekenning ingepalm het as lid van die welbekende Def Poetry Jam op Broadway, New York, was self vir die teks van dié eenvrouvertoning verantwoordelik.
Border/Clash is 'n verbale kragtoer.
Chin, 'n energieke digter/skrywer van Jamaikaans-Chinese afkoms, skakel die gehoor dadelik aan en lok vinnig-vinnig reaksie uit – van spontane applous tot 'n "sies" of 'n gril hier en daar.
Sy hou nie terug nie.
In 'n solostuk gepeper met seksuele verwysings, gay-seks en growwe humor neem sy die kyker op 'n outobiografiese, selfondersoekende reis deur haar lewe.
Chin vertel hoe sy as lesbiër in Jamaika tot gewaarwording gekom het en uiteindelik die land verlaat het ná haar seksuele oortuigings amper tot haar verkragting gelei het.
Nou, as 'n New Yorker, probeer die kunstenaar en aktivis haar selfgekose uitgewekenheid, seksualiteit, gemengde ras en dikwels deurmekaar wêreld verstaan.
Daar's hier en daar 'n naklank van daai 'neurotiese New Yorkers,' die selfondersoeke stadsjapies wat die vergrootglas soms net té lank oor hulself en die wêreld se 'issues' hou.
Maar die 'slam poet' se bekkige, brawe blik op vrouwees, en boonop 'n lesbiër, en haar insiggewende kommentaar op die worsteling met seks, politiek, geslag en kultuur in die moderne wêreld sorg eweneens vir 60 minute se verrykende plesier.
"Feminis, of vrouïs?" vra Chin haarself.
'n Antwoord het sy nie, maar dis duidelik dié skrywer se pen is voorwaar haar swaard.
En hy's vlymskerp.
Kaartjiepryse vir Border/Clash wissel van R70 tot R130.
Tot 10 Julie begin dit om 18:00 en van 12 tot 24 Julie om 20:15. Bespreek by Computicket.