Bekendes wens Madiba rus en vrede toe
2010-07-17 12:04
Kaapstad - Rus en vrede.
Dít is wat bekendes oudpres. Nelson Mandela toewens met die herdenking van sy 92ste verjaardag môre.
“Ek wens hom absolute vrede en vreugde saam met sy familie toe,” het die kabaretsanger Amanda Strydom gesê. “Hy het soveel gedoen, so hy is geregtig op sy eie rustyd.”
Die liedjieboer Anton Goosen het gesê hy hoop Madiba is nog lank met ons. “Dit was so wonderlik toe hy ’n verskyning by die Wêreldbeker-sokkereindstryd gemaak het.”
Mense word versoek om môre vir 67 minute iets vir hul medemens te doen.
Mandela was vir 67 jaar polities aktief.
Goosen gaan vir sy bydrae worsbroodjies maak en dit aan kinders en rondloperhonde in die informele nedersetting Masekhane buite Gansbaai uitdeel.
“Ons weet ons het jou ’n bietjie teleurgestel sedert 1994, maar die laaste twee maande is ’n belofte dat dit gaan beter gaan,” het Max du Preez, politieke ontleder en skrywer, gesê.
Die skrywer Jeanne Goosen het gesê sy is bly hy is nog met ons. “Geseënd, en al hierdie boodskappe. Vat ’n dop en enjoy life!” het sy gesê.
Die spotprentkunstenaar Jonathan Shapiro (Zapiro) gaan vir 67 minderbevoorregte kinders kuns in die Iziko-museum wys.
“Ek hoop Madiba kan agteroor sit en verseker wees dat die res van die wêreld goed vir die mensdom sal doen.”
Die aktrise Shaleen Surtie-Richards het gesê benewens die wêreld se sewe wonders is Madiba ons eerste en enigste wonder. “Mag die Here hom seën dat hy net daar is dat ons hom kan sien.”
Madiba was vir hom ’n groot inspirasie, het die sanger Daniël Koppel, bekend as Danny K, gesê. Dié kunstenaar gaan 67 minute met die Kaapstadse polisie deurbring en help nadat sy Shout-veldtog 50 navigasietoestelle aan die polisie geskenk het.
Die veteraan-aktrise Jana Cilliers gaan ’n ou vriend met beroerte môre (Sondag) bystaan. “Ek het min woorde. Ek wil eintlik maar net dankie sê.”
Volg Nuus24 op Twitter