Omroepers weg by Classic FM
2011-03-02 07:02
Johannesburg – Drie radio-omroepers van Classic FM het dié musiekstasie weens herstrukturering vaarwel toegeroep.
Die stemme van Mike Mills, Tony Blewitt en Thabiso Tema (TT), drie van die stasie se bekendste omroepers, is eergister vir die laaste keer daarop gehoor, het Dominic Ntsele, mede-eienaar van die stasie, gister gesê.
Volgens hom is die besluit al ses maande gelede geneem en dit was “g’n verrassing” vir die omroepers nie.
“Ons is besig om ons stasie ’n nuwe formaat te gee om aan te pas by die uitdaging om jonger luisteraars te betrek. Ons het geluister na wat luisteraars sê en pas by hulle aan.”
Mills was 12 jaar by die stasie, Blewitt agt jaar en TT vier jaar. Blewitt was van 06:00 tot 10:00 en 19:00 tot 20:00 op die lug, TT van 10:00 tot 14:00 en Mills van 14:00 tot 18:00.
Al drie was kontrakwerkers, het Ntsele gesê.
Classic FM word besit deur ’n konsortium wat bestaan uit Ntsele, die sokkerbaas mnr. Irvin Khoza en die Ingoma-trust.
Ntsele het Dinsdag benadruk die besluit was “niks persoonliks” nie.
“Die drie het reeds die afgelope ses maande geweet wat gaan gebeur. Ons hou van hulle as mense, maar dis tyd vir ’n verandering. Die besluit is beslis nie ligtelik geneem nie en dit was swaar om van hulle afskeid te neem.”
Deel van Classic FM se nuwe formaat is om meer musiek en minder stemme te hê. “By sommige radiostasies is die omroeper die belangrikste. By ons is dit die musiek. Mense hou nie altyd daarvan as klassieke musiek deur ’n stem onderbreek word nie.”
Blewitt het aan Moneyweb gesê hy onderhandel met ’n ander maatskappy.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld