Bekendes kap Britse media
2011-11-27 08:36
Johannesburg – Die akteur Hugh Grant, die skrywer JK Rowling en die aktrise Sienna Miller het die afgelope week emosioneel en vurig getuig oor hoe die Britse paparazzi en poniekoerante hul lewe oor jare versuur het.
Vier dae lank het bekendes, onbekendes, bedroefdes en verontregtes in ’n Londense hof vertel hoe ’n gesnuffel, beswaddering en gesteelde foto’s hul lewe versuur het.
Hulle het die pers as sinies en brutaal teenoor individue uitgebeeld, met min ordentlikheid of meelewing terwyl hy op hul tragedies kapitaliseer.
Bekendes soos Rowling, Grant en Miller het met hul getuienis Brittanje se ondersoek na media-etiek die aangrypendste drama in die stad gemaak.
Volgens Rowling, skepper van die karakter Harry Potter, is koerante se benadering: “Jy is bekend, jy vra hiervoor.”
Sy het vertel hoe joernaliste ’n nota in die skooltas van haar vyfjarige dogter geglip, foto’s van haar kinders in hul swemklere geneem en buite haar huis gewag het totdat sy “soos ’n gyselaar” gevoel het.
Grant het gesê sedert die fliek Four Weddings and a Funeral van hom ’n ster gemaak het, is besonderhede oor sy hospitaalbesoeke gelek, daar is deur sy asblik gegrawe en sy voormalige vriendin en sy babadogtertjie is geteister.
Miller, ster van Alfie en Layer Cake, het beskryf hoe sy middernag deur tien groot mans in ’n straat agtervolg is.
“Die feit dat hulle kameras in hul hande gehad het, het beteken dit is wettig,” het die 29-
jarige aktrise gesê.
“Maar as jy die kameras wegneem, wat het jy? ’n Groep mans wat ’n vrou jaag.”
Die ouers van vermiste en vermoorde kinders het van erge beproewings en ondraaglike inmenging in tye van hartseer vertel.
Kate McCann, wie se dogter Madeleine in 2007 tydens ’n gesinsvakansie in Portugal verdwyn het, het gesê sy het waardeloos gevoel toe uittreksels uit haar private dagboek in 2008 in die poniekoerant News of the World gepubliseer is.
Bob en Sally Dowler, wie se 13-jarige dogter, Milly, in 2002 ontvoer en vermoor is, het vertel hoe ’n koerant wat aan mnr. Rupert Murdoch behoort het hulle vals hoop gegee het dat hul dogter nog geleef het.
Iemand van die koerant het na die boodskappe op hul dogter se foon geluister, wat veroorsaak het dat daar weer plek was vir nuwe boodskappe. Dit het die Dowlers laat glo Milly leef nog.
Die op die lappe kom van dié voorval het gelei tot die inhegtenisneming van joernaliste en redakteurs en verskeie mense het hul werk verloor, insluitend die mediaraadgewer van mnr. David Cameron, Britse eerste minister, twee senior Londense polisiebeamptes en senior personeellede van Murdoch.
Murdoch het verder die 168 jaar oue koerant toegemaak.
Cameron het opdrag gegee vir ’n ondersoek na die kultuur, etiek en praktyke van die Britse pers, onder leiding van regter Brian Leveson.
Leveson moet aanstaande jaar terugvoering gee en kan groot veranderings aan die Britse media se stelsel van selfregulering aanbeveel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport