Bekende sangers in Afrikaanse fliek
2009-10-10 12:32
Kaapstad - Die sangers Theuns Jordaan en Elizma Theron verruil van volgende week vir sowat drie weke hul rolle as sangers tydelik vir dié van rolprentsterre.
Hulle vertolk die hoofrolle in die nuwe Afrikaanse romantiese komedie Jakkalsdans, wat van volgende week in die Karoodorp Loxton verfilm gaan word.
Deon Meyer, bekende skrywer van verskeie misdaadverhale, het die draaiboek geskryf. Hy het by navraag gesê daar gaan geen speurvernuf in hierdie rolprent ingespan word nie.
“Dis nie op enige van my boeke gegrond nie. Ek het die draaiboek spesiaal geskryf nadat ek reeds sowat vier jaar lank met die storie in my kop rondgeloop het. Dis ’n lekker storie wat mense sal geniet.”
Die regisseur is die bekende Darrel James Roodt, wat reeds verskeie rolprentsuksesse op sy kerfstok het.
Volgens die vervaardiger, Anton Ernst, is hy baie opgewonde oor hierdie rolprent. Ook hy is geen vreemdeling wat suksesrolprente betref nie. Hy het reeds sewe vollengterolprente vervaardig en was al by sowat 40 plaaslike en internasionale rolprente betrokke.
“Ek begin binnekort werk aan ’n projek van meer as R10 miljoen in Kaapstad, en daarna ook aan een met ’n groot begroting in Los Angeles.
“Jakkalsdans lê my tans die naaste aan die hart. Dis ’n lekker plaaslike storie en boonop een van die eerste Afrikaanse romantiese rolprente in baie jare,” het hy gesê.
Ernst het bevestig dat die twee sangsterre die hofrolle vertolk. Daar is ook ’n vyfjarige meisie uit die Loxton-omgewing wat ’n rol in die rolprent losgeslaan het, maar hy wou nie haar naam bekend maak nie.
Die rolprent behoort middel Februarie uitgereik te word. Volgens Ernst onderhandel hulle tans met beide Ster-Kinekor en Nu Metro oor die vertoon daarvan.
- Die Burger