Bekende sanger en skilder sterf
2011-12-05 08:02
Johannesburg – Die kunstenaar en sanger Huyser Burger wat in November vanjaar ineengestort het en met akute nier- en lewerversaking gediagnoseer is, is Maandagoggend oorlede.
Burger is een van die oorspronklike Battery 9-lede wat in die 1990’s opslae gemaak het met alternatiewe Afrikaanse musiek met ’n industriële gevoel. Hy is ook bekend as skilder.
Hy is op 25 November vanjaar in die Flora-kliniek in Roodepoort opgeneem nadat hy tydens ’n kuier in Melville inmekaargesak het.
Paul Riekert, medestigterslid van Battery 9, beskryf Huyser as ’n ongemaklike, kreatiewe mens en bitter hardkoppig.
“Ek lag nou daaroor, maar dis dalk om nie te huil nie. In die laaste tyd het hy gesukkel met sy gesondheid en minder geskep.
“Ek het hom gesê hy misbruik drank en dit sal nog alles van hom af wegvat. Sy vriende, verhoudings, sy gesondheid.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld