Banksy daag dalk op vir die Oscars
2011-01-26 21:00
Los Angeles – Banksy, die rebelse graffiti-kunstenaar wie se identiteit tot dusver hoogs geheim is, sal miskien sy opwagting by die Oscar-toekennings maak.
Hy het saam met die vervaardiger, Jamie D’Cruz, ‘n benoeming gekry vir die dokumentêr, Exit Through the Gift Shop.
Banksy is ook blykbaar self in die dokumentêr, maar ‘n mens kan nie sy gesig sien nie, want hy’t ‘n kappie op en sy kop is in die skaduwee.
Sy stem is ook verander om hom onherkenbaar te maak.
“Ek is verbaas,” het hy in ‘n verklaring gesê.
“Gewoonlik hou ek nie van sulke toekennings nie, maar vir dié een sal ek ‘n uitsondering maak.
“Die laaste kaal, goud-geverfde man in my huis, was ek.”
Maar, sal hy by die seremonie opdaag om sy prys te ontvang as hulle sou wen?
Sal hy voor miljoene kykers op die verhoog klim en ‘n paar woorde spreek, indien hy die kans gegee word, en oplaas sy identiteit bekend maak?
“Ek twyfel,” meen John Cooper, direkteur van die Sundance Filmfees, waar Exit Through the Gift Shop vir die eerste keer gewys is, ‘n geleentheid waarvoor die misterieuse kunstenaar nié opgedaag het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.