‘Avatar’ sink ‘Titanic’ ook in SA by loket
2010-02-02 07:43
Sanri van Wyk
Johannesburg. – Avatar het Titanic ook in Suid-Afrika gesink en is nou die topverkoper van alle tye by die SA loket.
Aan die einde van die afgelope naweek het dié James Cameron-fantasie-aksiefliek se kaartjieverkope in Suid-Afrika op R41,9 miljoen gestaan.
“Dit groei steeds,” het Elisha Bholanath, woordvoerder van NuMetro Entertainment, wat die fliek hier versprei, gesê.
Avatar is Cameron se eerste groot treffer in jare.
Titanic, sy ander groot treffer, was tot voor die naweek die topverkoperfliek in Suid-Afrika.Titanic het destyds R40 miljoen by die Suid-Afrikaanse loket geïn.
“Avatar het alle ander treffers geklop om sy regmatige eerste plek in te neem,” meen Bholanath.
Avatar het Titanic reeds verlede week as internasionale topverkoper onttroon. Kaartjieverkope wêreldwyd is sowat $2 miljard (sowat R15,1 miljard) teenoor Titanic se $1,843 miljard in 1997 en 1998.
Dit is die sewende agtereenvolgende week dat Avatar die topverkoper by die internasionale loket is. Bholanath meen die einde van Avatar se Suid-Afrikaanse sukses is nog nie in sig nie.
Avatar word in 24 teaters landwyd in 3D-formaat vertoon, en in 73 teaters in 2D.
- Die Burger