Avatar 2 dalk op pad
2010-03-15 09:21
Los Angeles – Die rolprentvervaardiger Jon Landau het Sondag gesê hy en die regisseur James Cameron oorweeg om ‘n opvolg tot die gewilde rolprent Avatar te maak.
“Ons gesels tans oor ‘n Avatar-opvolg maar ons oorweeg ook die moontlikheid van ‘n liefdesverhaal genaamd The Dive, asook ‘n rolprent met die naam Voyage," sê Landau.
Dié twee beplan ook glo om te werk aan ‘n rolprent genaamd Battle Angel Alita wat op ‘n Japannese roman gebaseer is.
Volgens Landau sal hulle binne die volgende ses maande besluit watter een van hierdie projekte om eerste aan te pak.
"Ons het van die begin af gesê dat as Avatar suksesvol is, ons ‘n Avatar 2 sal maak, maar ons moet die regte storielyn kry,” het Landau gesê.
Een ding is seker, die twee het reeds besluit dat hul volgende projek ook in 3D sal wees.
“Ek glo nie ons sal ooit weer ‘n 2D rolprent maak nie. Hoekom ‘n film in wit en swart skiet as daar kleur is?,” het hy gesê.
- Reuters