Aretha Franklin stel troue af
2012-01-24 12:00
Washington – Aretha Franklin en haar verloofde, William “Willie” Wilkerson, heroorweeg hul planne om hierdie somer te trou, het die sangeres Maandag gesê.
Dít volg drie weke nadat die paartjie hul verlowing aangekondig het.
“Ek en Will het besluit ons beweeg ‘n bietjie té vinnig en daar was ‘n paar dinge wat nog nie goed deurdink is nie,” het die 69-jarige Franklin in ‘n verklaring, wat deur haar reklamebestuurder in New York uitgereik is, gesê.
“In die stadium gaan daar nog nie ‘n troue wees nie. Ons gaan nie verder daaroor kommentaar lewer nie omdat dit 'n persoonlike en sensitiewe saak is. Ons waardeer al die goeie wense van vriende.”
Franklin het op 2 Januarie aangekondig dat sy en Wilkerson, ‘n ou vriend, in Junie of Julie by Miami-strand die knoop wil deurhaak.
Sy het gegrap: “Nee, ek is nie swanger nie.”
Die Grammy-bekroonde stem agter soul-treffers soos “Respect”, “Think”, “Chain of Fools” en “(You Make Me Feel Like) A Natural Woman” was al twee keer vantevore getroud.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA