Ard Matthews nie betaal vir sing van volkslied
2011-08-24 13:25
Kaapstad – Ard Matthews, hoofsanger van Just Jinjer, sê hy is nie betaal vir die sing van die landslied nie omdat dit nie 'n betaalde vertoning was nie.
Dié onthulling volg nadat Matthews die Suid-Afrikaanse volkslied Dinsdagaand op nasionale televisie opgemors het.
Hy is vereer met die voorreg om die volkslied regstreeks op SuperSport te sing tydens die aankondiging van die Springbok-groep wat Suid-Afrika by die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland sal verteenwoordig.
Die sanger het aan Channel24 gesê hy was goed voorbereid vir die sing van die landslied.
“Ek weet nie of ek so kwaad sou gewees het, soos sommige mense is nie. Maar ek verstaan hoekom mense ontsteld is.”
Matthews hou vol die oomblik was te groot vir hom en hy is baie jammer oor wat gebeur het.
“Alles het net een groot nagmerrie geword.”
Hy sê die televisiespan was na die tyd heel tegemoetkomend maar Supersport en die rugbybase was nie tevrede nie.
“Ek het intussen met die rugbybase gepraat en hulle het gesê alhoewel hulle aanvanklik kwaad was verstaan hulle dat dit menslik is om so 'n fout te begaan en hulle ondersteun my in daardie verband.
Matthews sê hy het nie geld ontvang vir die sing van die landslied nie en sou ook nie geld aanvaar het indien hulle dit aangebied het nie.
“Ek dink die enigste ding wat ek nou kan doen is om dié optrede te neem en dit in iets positiefs te verander.”
– Volg Nuus24 op Twitter.