Aniston in sop oor ‘R-woord’
2010-08-20 14:32
Los Angeles - Jennifer Aniston se publisiteitstoer vir haar nuutste film, The Switch, het al vir omstrede debatte gesorg, maar die aktrise het dalk hierdie keer een woord te veel gesê, berig CNN.
Die 41-jarige aktrise het Donderdag op die kletsprogram Live! With Regis and Kelly die woord “retard” in die middel van ‘n selfspottende opmerking gemaak.
“Ek speel graag ‘dress-up’. Ek doen dit vir ‘n lewe, nes ‘n ‘retard’,” het die voormalige Friends-ster gesê.
Die reaksie op die internet is giftig en dui ‘n “verlies aan respek” vir die aktrise aan.
Die Spesiale Olimpiese Spele het ook ‘n verklaring uitgereik.
“Die Spesiale Olimpiese Spele is altyd teleurgestel as die R-woord gebruik word, veral as dit deur iemand is wat invloedryk is in die samelewing,” het hulle gesê.
Aniston se verteenwoordigers het nog nie op navrae reageer nie.
Die woord "retard" word gebruik om op neerhalende wyse na persone wat verstandelik gestremd is, te verwys.
Aniston en die konserwatiewe nuusaanbieder van Fox, Bill O'Reilly, is in 'n bekgeveg gewikkel oor enkellopende vroue wat ouers word deur kunsmatige inseminasie.
Volg Nuus24 op Twitter