Aniston en Kutcher benoem vir Razzie-pryse
2011-01-25 10:34
Los Angeles – As flieks waarin Jennifer Aniston, Ashton Kutcher en die rolverdeling van Twilight jou vanjaar onbeïndruk gelaat het, is jy nie die enigste een nie.
Al dié akteurs is vir die Razzie-pryse benoem, ’n jaarlikse kompetisie wat Hollywood se swakste flieks, akteurs en regisseurs “vereer”.
Die kompetisie is vanjaar in sy 31ste jaar en word op 26 Februarie, die aand voor die Oscars, gehou.
Verlede jaar se wenners het, ironies genoeg, die Oscar-bekroonde Sandra Bullock ingesluit vir haar rol in All About Steve.
Net sy en Halle Berry, wat in 2005 die Razzie ontvang het vir haar rol in Catwoman, het al met ’n Oscar-beeldjie in hul hand weggestap nadat hulle die vorige aand die kroon moes dra as swakste aktrise, berig die kompetisie se amptelike webtuiste www.razzies.com.
Die rolprent The Twilight Saga: Eclipse, die nuutste aflewering in die treffer-reeks oor vampiere en weerwolwe, is boaan die lys van moontlike Razzies saam met The Last Airbender, regisseur M. Night Shyamalan se 3D- Oosterse gevegskuns-fantasie. Elkeen het nege benoemings gekry.
Sex and the City 2, wat die avonture van vier middeljarige vroue vertel, is kort op hul hakke met sewe benoemings.
Daarna volg Aniston se romantiese komedie The Bounty Hunter en die goedkoop vervaardigde Vampires Suck, elk met vier benoemings.
Aniston is ook benoem vir swakste aktrise vir haar spel in sowel The Switch as The Bounty Hunter. Gerard Butler, haar medester in dié fliek, het ook ’n benoeming as swakste akteur hiervoor gekry.
Die arme Aniston is daarbenewens ook eerste in die webtuiste E! Online se vyf ongemaklikste oomblikke op toekenningsaande.
Aniston se baie ongemaklike optrede saam met Jack Black op die 2009-Oscars ten aanskoue van haar aartsvyand, Angelina Jolie, het hier die koek gevat.
Die hartebreker Ashton Kutcher is as swakste akteur benoem in sy flieks Killers en Valentine’s Day.
Die Britse akteur en komediant Ricky Gervais het op die onlangse Golden Globe-galageleentheid na hom verwys as “Bruce Willis se seun”.
Die Twilight-sterre Taylor Lautner en Robert Pattinson is ook albei as swakste akteurs benoem.
- Reuters