Angus se film roer harte
2012-03-17 07:02
Pretoria – Angus Buchan is Donderdagaand in Johannesburg deur bewonderaars oorval by die première van die rolprent Angus Buchan’s Ordinary People.
Waar hy in The Zone in Rosebank sy weg tussen die skare van meer as 1 300 mense gebaan het, kon hy selde meer as ’n paar tree op ’n slag vorder sonder dat iemand hom voorgekeer het.
Party het voorheen al kennis gemaak en wou net kom groet, ander het hulself kom voorstel, en sommige wou graag ’n foto saam met hom laat neem.
Maar as dit alles hom ietwat na ’n Hollywoodster laat lyk het, was sy boodskap presies die teenoorgestelde.
“God is nie ’n aannemer van die persoon nie. Hy sal enigiemand gebruik wat bereid is om hom- of haarself aan Hom te onderwerp.”
Dit is volgens Buchan ook die boodskap van die fliek, wat die storie vertel van drie mans wat die Mighty Men-konferensie van 2010 bygewoon het.
“As God ’n halfgeletterde boer soos ek kan gebruik, kan Hy enigiemand gebruik,” het Buchan bygevoeg.
FC Hamman, regisseur, het gesê die fliek was ’n geloofsprojek. Sy lewe en hy dink dié van elke akteur wat daarin gespeel het, is in die proses verander.
Hamman het gesê die fliek is met ’n begroting van R10 miljoen gemaak. Dit sal baie goed moet doen in Suid-Afrika om daardie belegging te herwin.
Die hoop op wins is eintlik geleë in die moontlikheid dat dit ook in die buiteland uitgereik kan word.
Hamman het gesê daar is ’n kontrak met Buchan gesluit, maar dis suiwer daarop gemik om te verseker dat daar nie wanvoorstellings van Buchan se bediening gemaak word nie.
Kontraktueel is daar geen verpligting om enige betaling aan Buchan te doen nie.
Hamman en die ander beleggers het egter reeds besluit om uit moontlike wins ’n skenking te doen aan Buchan se Shalom-bediening wat onder meer ’n kinderhuis bedryf.
Hamman het gesê die eerste terugvoering wat hy oor die prent gekry het, was oorweldigend en positief. Hy is oorstelp.
Hy voel hy het sy roeping gevind. Hy wil meer sulke flieks maak.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger