Andy Garcia speel president
2009-10-20 16:01
Tbilisi, Georgië – Andy Garcia gaan die rol van Mikheil Saakhasvili in ‘n fliek gebaseer op Georgië se oorlog met Rusland, vertolk.
Verfilming van die fliek het vandeesmaand in Georgië onder regie van Renny Harlin, wat ook vir “Die Hard 2” verantwoordelik was, begin.
Die rolprent is gebaseer op die vyf dae lange oorlog tussen Georgië en Rusland in Augustus 2008, en draai om ‘n Amerikaanse verslaggewer wie se onpartydigheid as joernalis getoets word wanneer hy in dié oorlog se kruisvuur vasgevang word.
“Wat ons met die fliek wou doen was om oorlog as verkeerd uit te beeld,” het Michael Flannigan, die fliek se uitvoerende vervaardiger, aan Georgiese televisie gesê. “Ons het die kans gekry om ‘n ware anti-oorlog fliek te maak”.
Sowat 390 burgerlikes het aan beide kante van die oorlog gesterf en meer as 100 000 mense is in die paar dae ontwortel.
Die naam van dié rolprent is nog nie bekend nie.
- Reuters