Amor wil net met haar lewe aangaan
2011-05-28 07:55
‘Ek wil net graag ’n ma wees vir my kinders.”
So het Amor Vittone Vrydag na aan trane gesê. Sy sê sy wil nie meer oor Joost van der Westhuizen se veelbesproke siekte, haar kinders en haar verhouding met hom praat nie.
“Ek wil net aangaan met my lewe. Ek wil so graag vir ’n slag hê alles moet normaal wees. Dinge is so onseker,” het sy moedeloos aan Beeld gesê.
Dít volg nadat Vittone Vrydag deur Huisgenoot-lesers op die tydskrif se webwerf gekritiseer is omdat sy die gesin se vuil wasgoed in die openbaar was.
Vittone het aan Huisgenoot, wat op 2 Junie in Johannesburg verskyn, gesê Van der Westhuizen is “nie duidelik” met haar oor die feite van sy siekte nie.
“Ek vra al hierdie goed vir hom, maar hy antwoord my nooit. Sy storie verander die heeltyd. Eers het hy geweet watter siekte hy het, nou sê hy die een dag hy sal eers oor twee weke weet en die volgende dag is dit skielik eers oor ses weke,” het sy aan Huisgenoot gesê.
Vittone het Van der Westhuizen glo ’n week voordat hy in die hospitaal opgeneem is laat dagvaar om al sy bates te verklaar, maar het nog geen reaksie gekry nie, berig Huisgenoot.
Bridget van Oerle, Van der Westhuizen se reklamebeampte, het op 12 Mei aan Beeld gesê ’n “ernstige neurale spiersiekte” is by Van der Westhuizen gediagnoseer.
Dr. Henry Kelbrick, oud-Blou Bul-spandokter en Van der Westhuizen se jare lange vriend, het dit bevestig en aan Beeld gesê hy het besef daar is “moeilikheid” toe Van der Westhuizen se tong begin sleep en die krag in sy regterarm merkbaar minder was.
Dié nuus het die media laat gons en op 13 Mei het die siekte ’n naam gekry: die gevreesde motorneuronsiekte (MNS). Kelbrick het dié diagnose aan Beeld bevestig.
’n Week se stilte het gevolg waarna Van der Westhuizen op 21 Mei aan Rapport gesê het: “Ek het dalk nog net drie jaar oor ... ”
Sy bebloede onderlip was glo te wyte aan sy siekte.
“Ek moet twee hande gebruik om te skeer. Toe skeer ek myself raak,” het hy gesê.
Van der Westhuizen het egter Maandag, twee dae nadat hy met Rapport gepraat het, op 702 Talk Radio en Jacaranda 94.2 teenoor die media uitgevaar wat volgens hom self besluit het hy ly aan MNS, hom nie in vrede wil laat nie en die leeftyd wat hy oor het, versin het.
Volgens Van der Westhuizen was die diagnose van MNS nie meer ’n sekerheid nie, maar ’n moontlikheid.
“Alles is so deurmekaar,” het Vittone aan Beeld gesê.
“Ek wil nie meer daaroor praat nie, daar is niks méér wat ek kan sê as wat ek reeds gesê het nie. Ek wil eerder daarop fokus om die beste vir my kinders te wees.”
- Beeld