Amor trekpas gegee 'oor Joost'
2011-07-11 13:24
Kaapstad – Amor Vittone beweer sy is deur die radiostasie Jacaranda 94.2 die trekpas gegee oor die "Joost-kwessie".
Vittone het Maandag op haar Twitterblad geskryf: “Ja, ek is nie meer op Jacaranda nie, omdat die bestuur gevoel het dat die ‘negatiewe publisiteit’ rondom die ‘Joost-kwessie’ nie goed vir die jac-handelsnaam is nie! Mm.”
Vittone het Sondae ‘n program op dié radiostasie aangebied. Haar kontrak het in Junie tot 'n einde gekom en is nie weer hernu nie.
Op 12 Junie het sy ‘n beroep op haar aanhangers op Facebook gedoen om SMS'e aan Jacaranda te stuur of op die stasie se Facebook-blad te skryf en hulle te vra om haar kontrak as aanbieder te hernu.
Vittone is tans in ‘n egskeidingsaak met haar vervreemde man, Joost van der Westhuizen, gewikkel.
Alhoewel 'n voorlopige diagnose van motorneuronsiekte (MNS) by Van der Westhuizen gemaak is, het Vittone aangedui dat sy voortgaan met die egskeiding.
– iafrica.
– Volg Nuus24 op Twitter.