Amor stort hart uit oor Joost
2010-05-28 09:46
Kaapstad - Die sangeres Amor Vittone het vir die eerste keer sedert sy haar man, die oud-Springbokkaptein Joost van der Westhuizen, gevra het om uit hul huis te trek, ‘n media onderhoud toegestaan.
In dié eksklusiewe onderhoud, wat in die jongste Huisgenoot verskyn, vertel Vittone hoekom sy die besluit geneem het.
Sedert verlede jaar se seksvideo-skandaal waarin Van der Westhuizen betrokke was, is dié glanspaartjie se huwelik onder die vergrootglas. Vittone het wel Van der Westhuizen bygestaan toe die berugte seksvideo opgeduik het.
Vittone noem egter aan Huisgenoot dat sy nog nie kan sê of hul huwelik finaal verby is nie.
“Die verhouding is op ys. Ek het ruimte nodig om daardie besluit te neem,” het sy aan die tydskrif gesê.
Vittone het verder aan Huisgenoot gesê dat sy begin besef het dat sy ook nie meer gelukkig is nie.
Sy vertel ook breedvoerig hoe sy haar huwelik probeer red het, maar dat ‘n tekort aan vertroue die deurslag was vir haar besluit.
“Ek vertrou nie meer vir Joost nie. Ek moet myself nou weer vind. My hart moet weer gelukkig voel,” het sy gesê.
“Ek het dit vir my kinders gedoen.”
Volgens Vittone het Van der Westhuizen, voorlopig vir “’n maand of drie” uitgetrek. Hy bly tans by ’n vriend en hy het net klere saamgevat.
Hul twee kinders, Jordan (6) en Kylie (4), bly steeds by Vittone, in hul huis op die Dainfernlandgoed in Johannesburg.
“Ek weet nie wat vorentoe gaan gebeur nie,” sê Amor. “Ek leef in ’n wolk. Ek kan môre nog nie sien nie,” het sy gesê.
Lees meer by Huisgenoot.com.
Volg Nuus24 op Twitter.