Amor met krullers in hare na die bure
2010-11-21 09:32
Johannesburg - Met krullers in haar hare, ’n haardroër in die hand en pantoffels aan haar voete …
So
het die sangeres Amor Vittone by haar bure opgedaag nadat munisipale
werkers eergister die kragtoevoer na die spoghuis in Dainfern in die
noorde van Johannesburg afgesny het omdat haar vervreemde man, Joost van
der Westhuizen, glo R45 000 agterstallig was met die
elektrisiteitsrekening.
Amor se noodgeval met haar hare het boonop gekom net voordat sy as seremoniemeester by ’n geleentheid moes optree.
En gister moes sy maar wéér aan die buurman se deur gaan klop – dié keer sodat sy haar selfoon kon laai.
“Ek kan nie koffie maak nie. Ek kan nie in my eie huis eet nie,” sê Amor.
Sy sê sy was geskok toe die werkers aan haar deur klop oor die agterstallige rekening.
Vittone
se ouers, Dario en Delyce, het hul kleinkinders dadelik by die huis in
Dainfern gaan haal en is glo nie baie ingenome met hul vervreemde
skoonseun nie.
“Die Eskom-man het vir my gesê die rekening word
elke maand nie ten volle betaal nie. Ek wou dadelik betaal, maar hulle
het gesê die krag sal eers Dinsdag aangeskakel kan word.”
Die laaste betaling wat Joost gemaak het was glo R10 000 in Oktober.
Joost,
wat op ’n Rugby Legends-toer in Suid-Amerika is, het telefonies ontken
dat hy agterstallig is. “Ek skuld nie ’n sent op my kragrekening nie.”
Die egpaar se huwelik het verbrokkel ná die seksvideo-skandaal waarin Joost glo saam met ’n ontkleedanseres verskyn.
Joost het Amor in Mei om ’n egskeiding gedagvaar. Hulle is egter nog besig om te bepaal hoe hul bates verdeel moet word.
Joost het eers by ’n vriend op dieselfde landgoed gebly waar hy en Amor saam in Dainfern gebly het.
Hy bly volgens Rapport se inligting nou in ’n woonstel in die noorde van Johannesburg.