Allen se hulde aan Parys, kuns reg vir Oujaar
2011-12-30 08:45
As ’n mens nou ’n fliek wil kies om die ou jaar se uitgetrapte skoene mee uit te skop is dit Woody Allen se nostalgiese Midnight in Paris. Net Allen kon dié vrolike, aweregse en intelligente mengsel – oor ’n soort literêre tydreisiger wat die wonderskone stad Parys in drie tydvakke beleef – bedink het.
Gil (Owen Wilson), ’n kwalik vermomde alterego vir Allen, is ontgogel met sy werk as draaiboekskrywer vir die Hollywood-fliekfabriek. Hy karring die een ná die ander nikseggende, dog suksesvolle draaiboek uit.
Heimlik wil hy sy werk opgee en al sy tyd aan sy Groot Roman bestee. Hy troetel romantiese idees as arm skrywer in Parys.
Daarenteen koester sy verloofde, Inez (Rachel McAdams), die droom van ’n blinker lewe in spoghotelle en glanspartytjies met syns insiens erg vervelige, neus-in-die-lug-mense. Haar welgestelde, snobistiese ouers kuier saam in Parys en hulle probeer Gil in die hede en op, sal ’n mens maar sê, die winsgewende pad hou.
Dié karakters trek die neus op vir die muwwe oudheid van Parys en die nostalgie wat alles omgeef. Gil se nostalgie vir die verlede in die stad van drome is gepas: So baie groot Amerikaanse skrywers het daar gewoeker en inspirasie kom skink. En ons ontmoet hulle weldra groter as lewensgroot.
Toneel vir toneel adem ’n mens die kuns en kultuur in: Allen dra sy verliefdheid op die stad onbeskaamd en uitgelate op die mou. Die prent kan ook beskou word as sy hulde aan die kunstenaars en skrywers wat in die stad van lig aangedoen het.
Snags ontsnap of vlug die arme Gil na die strate en só beland hy in ’n ander Parys.
Allen hanteer die tydspronge in sy prent manjifiek. Met ’n keurige wisseling van tempo en musiek roep hy nuwe moontlikhede op. Parys in die jazz-era met opskop-, rokerige kafees waar Ernest Hemingway, Scott en Ella Fitzgerald uithang met Cole Porter agter die klawers. Onse Gil beland aan huis van Gertrude Stein. Die kunstenaar Salvador Dali is kostelik met sy dronk geteem oor ’n renoster. Met net die wip van ’n uitgekerfde wenkbrou dompel Adrien Brody jou in die surrealisme.
Dan flits Allen na die Belle Époque-era, die goue era van optimisme, waar die kunstenaars Gauguin en Lautrec hul verskyning aan tafel maak. Die gesprekke is prikkelend en humoristies, soos jy van Allen verwag.
Midnight in Paris het dalk nie die diepgang en makabare kinkels van ’n Match Point of die volgehoue ironiese betoog van Everyone Says I Love You nie – tog is ’n “mindere” Allen myns insiens altyd veel meer werd as sowat tien ander prente op die kringloop.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld