Alaska opgewonde oor Sarah Palin se boek
2009-11-17 15:23
Anchorage - Sarah Palin se tuisland is baie opgewonde oor haar nuwe boek, Going Rogue, wat volgende week vrygestel word.
David Cheezem, eienaar van Fireside Books in Palmer,sê dat hy al talle oproepe ontvang het van mense wat wil seker maak hulle sal ‘n kopie kan kry.
Cheezem is van plan om sy winkel vroeg oop te maak met koffie en oliebolle vir die vroegoggend-klante.
Sy winkel is in Palmer, baie naby aan Palin se tuisdorp, Wasila.
Hy hoop dat hulle nabyheid aan Wasila verkope sal opstoot.
“Mense koop nie net die boek omdat hulle in politiek belangstel nie,” sê Cheezem.
“Hulle koop dit omdat sy in die omgewing grootgeword het en omdat hulle haar en haar familie ken.”
Shannon Cullip, eienaar van Pandemonium Books in Wasila, is van plan om die boek teen ‘n 20% afslag te verkoop.
Cullip het reeds 100 kopieë op aanvraag bestel en sal 'n verdere 100 kopieë in haar winkel hê.
Sy sê egter dat nie almal in Palin se tuisdorp groot aanhangers is nie.
“Party mense sal enigiets lees behalwe Going Rouge terwyl ander weer voel die hele wêreld moet dit lees,” sê Cullip.
- Sapa