Al Debbo sterf
2011-07-13 10:45
Bloemfontein – Die komediant Al Debbo (87) het Woensdagoggend in 'n Bloemfonteinse hospitaal gesterf.
Debbo is sowat drie weke gelede in die Bloemfontein Medi-Clinic opgeneem en vir ligte longontsteking behandel, het Karen Ebersohn berig.
Amanda Appelgryn, woordvoerder van die hospitaal, het gesê Debbo is vir hartversaking ook behandel.
Die grapjas, akteur en sanger is vroeg vanjaar by die Comics Choice Awards vereer vir sy lewenslange bydrae tot die vermaakbedryf.
Dit is meer as 60 jaar gelede dat Debbo sy debuut gemaak het in die rolprent Die kaskenades van dokter Kwakin 1949. Daarna het meer as 20 ander gevolg met sy laaste verskyning in Leon Schuster se Oh Shucks I’m Gatvol, wat in 2004 uitgereik is, het Anna-Retha Bouwer berig.
Sy laaste album, "Pieringoog potpourri", het in 2000 verskyn met al die eiegoed wat van hom ’n bekende naam gemaak het, soos Hasie, Die tantes van Nantes, (Die) Brakke van Turffontein en Bolandse nooientjie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad