Aktrises van 7de Laan betrek by naakfoto’s
2011-11-14 06:52
Kaapstad - Skok, afgryse en woede.
Dít was die eerste reaksie van twee van die hoofrolspelers in die sepie 7de Laan nadat dit onder hul aandag gebring is dat hulle op Facebook betrek is by ’n skandaal waarin bloedjong meisies gevra is om halfkaal foto’s van hulself aan ’n bepaalde e-posadres te stuur.
Amalia Uys, wat die rol van San-Mari van Graan speel, en Donnalee Roberts, wat Annelie van Dyk speel, het sowat twee maande gelede per toeval uitgevind dat ’n pervert valse Facebook-profiele van hulle geskep het.
Daarin word dogters van tussen 13 en 15 jaar oud genooi om foto’s van hulself “in net ’n bra en deurtrekkertjie” aan ’n bepaalde e-posadres (nie Uys of Roberts s’n nie) te stuur. Daar is spesifieke instruksies oor hoe die meisies moet poseer. Die foto’s sou glo gebruik word om klere vir kinders te vervaardig.
Libby Nel, mediawoordvoerder van 7de Laan, het Sondag gesê die twee vroue is albei erg geskok en woedend omdat hul name by só ’n vieslike, walglike spul betrokke geraak het.
“Ek glo nie hulle is nou, twee maande later, al oor die skok nie. Ons het onmiddellik die polisie daarvan in kennis gestel. Lede van die polisie se eenheid vir spesialis- elektroniese misdade het albei van hulle in ons teenwoordigheid ondervra. Ek glo die vals profiele is reeds verwyder.” Die publiek en veral ouers van kinders moet hierop bedag wees, het sy gesê.
Niemand nog in verband met die voorval aangekeer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger