Aktrise gehospitaliseer na bipolêre episode
2013-02-27 17:00
Los Angeles – Carrie Fisher, wat die rol van prinses Leia vertolk het in die oorspronklike Star Wars-trilogie, is glo gehospitaliseer as gevolg van haar bipolêre versteuring, het haar woordvoerder Dinsdag gesê na ‘n video opgeduik het van Fisher wat ‘n baie vreemde vertoning op die verhoog lewer.
Die video was van ‘n vertoning wat Fisher verlede week aan boord ‘n passasierskip in die Karibiese Eilande gegee het.
In die video, wat op TMZ se webtuiste gepubliseer is, sing die 56-jarige treffers soos "Skylark" en "Bridge Over Troubled Waters" en blyk dit dat sy by tye die woorde van die liedjies vergeet. Fisher gebruik ook papier om agter ‘n hondjie, wat die verhoog met haar deel, skoon te maak en druk dan die papier in by ‘n bank agter haar.
“Daar was ‘n mediese voorval wat Carrie Fisher se bipolêre versteuring betrek,” het Carol Marshall, Fisher se woordvoerder, gesê.
“Sy is kortliks gehospitaliseer en voel nou baie beter.”
Fisher het bekendheid verwerf vir haar rol in Star Wars en het ook ‘n topverkoper boek, genaamd Postcards from the Edge, geskryf.
Onlangs het sy ‘n herhalende rol op die animasie-reeks Family Guy gehad.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters