Akteur se dood wás selfmoord
2010-02-26 09:00
Los Angeles – Andrew Koenig, die Growing Pains-akteur wat verlede week as vermis aangemeld is, se dood was selfmoord gewees.
“My seun het sy eie lewe geneem. Dis duidelik dat hy baie pyn gehad het,” het Walter Koenig, die akteur se pa, gesê met verwysing na sy seun se lewenslange stryd teen depressie.
Volgens Koenig se ouers het die 41-jarige akteur vroeër al sy besittings weggegee en sy medikasie gestop.
Hulle het by ‘n perskonferensie in Vancouver daarop aangedring dat ander mense met dieselfde probleem hulp moet kry.
“As jy een van daardie mense is wat voel dat hulle nie meer kan nie, moet jy weet dat daar mense is wat regtig omgee voor jy daardie finale besluit neem. Praat met iemand, “ het Walter Koenig, wat bekend is vir sy rol as Pavel Chekov in Star Trek, gesê.
Volgens Koenig het sy seun sy woonstel in Los Angeles – ‘n stad waar hy nooit tuis gevoel het – ontruim.
Die akteur het sy vriende vertel dat hy beplan om Vancouver toe te trek.
Sy liggaam is in 'n park in die Kanadese stad gevind.
- AP