Akteur se begrafnis vir eers uitgestel
2010-06-06 02:10
Salt Lake City – ‘n Prokureur van Utah het Vrydag gesê een van sy kliënte is aangewys as die eksekuteur van Gary Coleman se boedel.
Dié persoon het glo ook die reg om die akteur se begrafnisreëlings te tref.
Kent Alderman het gesê hy is in besit van ‘n testament wat Coleman in 1999 laat optrek het. Hy sal dit iewers volgende week na die hof neem.
Hy wou egter nie die besonderhede van die testament of die eksekuteur se naam bekendmaak nie. Alderman het egter gesê Coleman sal nie hierdie naweek begrawe word nie.
“Daar moet eers vasgestel word of dit die akteur se laaste testament is, alhoewel niemand met ‘n meer onlangse een na vore gekom het nie,” het hy gesê.
Frederick Jackman, prokureur van Coleman se ouers het gesê Dion Mial, ‘n vriend en gewese bestuurder van Coleman, is as sy eksekuteur aangewys.
Coleman se vervreemde ouers wou sy liggaam terugneem na sy tuisdorp in Illinois, nadat daar vasgestel was dat hy reeds in 2008 van sy vrou, Shannon Price geskei is. Maar hulle het intussen van hul planne afgesien.
Die 42-jarige Coleman het op 28 Mei weens bloeding op die brein gesterf.
- AP
- Volg Nuus24 op Twitter.