Akteur pleeg bedrog
2009-08-23 17:26
New York - Die akteur Antwon Tanner het skuldig gepleit op die bedrogklagtes teen hom nadat hy meer as 'n dosyn vervalste nommerplate vir $10 000 (R78 000) verkoop het.
Die akteur het naam gemaak in die TV-reeks One tree Hill en die film Coach Carter.
Tanner het aan 'n regter in Brooklyn vertel dat hy bloot die middelman van die sindikaat was, en dat hy die nommers op die plate aangebring het wat glo van iemand anders aan hom verskaf was.
Nie hy of sy prokureur het gesê hoe die akteur in die skema betrokke geraak het nie.
Tanner kan 'n jaar in die tronk spandeer wanneer hy op 20 November gevonnis word.
Die 24-jarige akteur is in April aangekla nadat hy 16 vervalste nommerplate en drie vervalste ID-kaarte verkoop het.
- Sapa