Akteur as regte booswig aangesien, geskiet
2010-11-02 12:22
Cebu - ‘n Filippynse dorpsbewaker het ‘n akteur, wat hy as ‘n regte booswig met ‘n geweer aangesien het, doodgeskiet, het die polisie Dinsdag gesê.
Kirk Abella het die rol van ‘n gewapende, gemaskerde man vertolk en het ‘n speelgoedgeweer by hom agterop ‘n motorfiets gehad toe hy in die rug geskiet is, het Alex Rellado, polisiehoof in die distrik van die hawestad Cebu, gesê.
Eddie Cuizon, ‘n lid van die distrik se veiligheidsmag wat die polisie bystaan, het homself oorgegee aan die polisie toe hy sy fout besef.
"Hy het twee mense gesien wat op ‘n motorfiets gery het. Hy het hulle genader, maar hulle het nie gereageer nie, moontlik omdat hulle op die regisseur gefokus was."
Cuizon was nie by magte om ‘n geweer by hom te dra nie en kan aangekla word, het Rellado bygevoeg.
Die Britse regisseur Allan Lyddiard het voorts die verfilming van ‘n dokumentêr oor vigilante-moorde in die Filippyne uitgestel.
Die owerhede in Cebu was bewus van die verfilming en het selfs polisiebeamptes ontplooi om na die produksie om te sien.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP