Afrikaanse teater terug op kunstefees
2010-04-12 06:33
Mariana Malan
Kaapstad - Die toneelstuk Skrapnel is vanjaar op die hooffees van die nasionale kunstefees in Grahamstad. Dit is een van 15 drama-produksies met toneelspelers uit 15 verskillende lande.
Dit is die eerste keer sedert 2004, toe Straties (deur Braam van der Vyver en onder regie van Nico Luwes) op die planke was, dat daar ’n Afrikaanse toneelstuk op die hooffees is.
Skrapnel, geskryf deur Willem Anker en onder regie van Jaco Bouwer, het ’n reeds bewese sukses-rekord. Dit is verlede jaar die eerste keer op Aardklop opgevoer waar dit as die beste produksie op die 12de Aardklop-kunstefees bekroon is.
Dit was pas op die KKNK te sien en op vanjaar se Woordfees is dit benoem as een van die beste dramaproduksies op die fees. Die akteurs daarin is Jenine Groenewald, Marcel van Heerden en Andrew Thompson.
Nog ’n drama wat reeds suksesvol was en in sy Afrikaanse weergawe, As die broek pas, op die Woordfees bekroon is as die beste drama-produksie, is Man to Man. Manfred Karge se oorspronklike Duitse drama (Jacke wie Hose) is deur Anthony Vivis vertaal. Marthinus Basson en Antoinette Kellerman sit hul suksesvolle samewerking in hierdie produksie voort.
Die fees se teaterprogram blyk op sy eie al te verstom. Dit sluit in plaaslike, nasionale en internasionale premières.
Janni Young, Standard Bank se Jong Kunstenaar vir Teater, asook wenner van ’n Fleur du Cap-toekenning vir haar werk, bied ’n kontemporêre marionette-teaterstuk, Ouroboros, aan. In ’n persverklaring word dit beskryf as ’n “liefdesverhaal oor drome en die dood”.
Voordat die stuk oorsee geneem word, bied die Mark-teater die wêreld-première aan van Craig Higginson se psigologiese drama The Girl in the Yellow Dress wat in Parys speel en die hoofkarakters ’n Kongolese student en ’n Britse onderwyser is. Nog ’n wêreldpremière is Kaapstad se Magnet Theatre se Inxeba Lomphili (The Wound of a Healer) waarin deur tradisies en rituele gestalte gegee word aan temas van onder meer identiteit en inpas binne ’n gemeenskap.
Die akteur Connor Lovett wat gehore verlede jaar betower het met Samuel Beckett se First Love sal vanjaar terugkeer met uittreksels uit Beckett se trilogie Molloy, Malone dies en The Unnameable.
Fred Abrahamse se The Really Small Theatre Company bied Shakespeare se Richard III aan met ’n rolverdeling van net drie lede: Marcel Meyer, David Dennis en Darron Araujo. Hulle gaan ook maskers, marionette en oudiovisuele hulpmiddels gebruik .
Ander stukke op die program is The Timekeepers deur Dan Clancy en Rhodessa Jones se Big Butt Girls Hard Headed Women.
Sokkerlus sal gevoed word deur toneelstukke soos The Football Diaries en Football Football.
In Neil Coppen se multimediaproduksie Tree Boy word ’n mengsel van stop-animasie en skadupoppe gebruik. Musiek van Karen van Pletsen en Guy Buttery word gebruik.
Aan die musiekteaterfront sal Dale Wasserman se Man of La Mancha te sien wees.
Dit neem die oorspronklike gegewe, maar speel teen die agtergrond van die Ballito-polisiestasie. Themi Venturas is die regisseur.
Die Mark-teater bied ook ’n musiekproduksie, Songs of Migration, aan onder regie van James Ngcobo.
- Die Burger