Afrikaanse fliek 'wys ook land se skoonheid'
2011-05-16 08:39
Kaapstad - Die Afrikaanse rolprent Skoonheid wat môre by die 64ste Cannes-rolprentfees in Frankryk vertoon word, kan instrumenteel wees om Suid-Afrika se skoonheid vir die wêreld te wys.
Só het kenners in die plaaslike rolprentbedryf gister gesê oor die blootstelling wat dié fliek op een van die oudste en mees gesogte rolprentfeeste in die wêreld sal geniet.
“In Australië word bitter baie rolprente gesubsidieer en word daar in die bedryf belê. Een van die grootste vrugte wat gepluk word, is die bloeiende toerismebedryf,” het die regisseur Regardt van den Berg gesê.
Skoonheid se regisseur is die Kapenaar Oliver Hermanus. Die prent vertel die verhaal van ’n middeljarige gesinsman, Francois (gespeel deur Deon Lotz), en sy obsessie met ’n jonger man.
Dit sal in die Un Certain Regard-kategorie beoordeel word en is die eerste Suid-Afrikaanse – en Afrikaanse – rolprent wat op dié skaal vertoon sal word.
Volgens Van den Berg gaan die rolprent iets van ons kultuur met die wêreldgemeenskap deel.
“Dit is ’n groot eer om te kan meeding met Engelse, Franse en selfs Italiaanse rolprente wat die bedryf al vir jare beoefen.
“Ons was vir so lank van die internasionale rolprentbedryf afgesonder en ek dink dit dien as ’n aansporing vir ander rolprentmakers om te wys wat gedoen kan word.”
Brümilda van Rensburg het gesê dit is ’n riem onder die hart wanneer gehaltewerk beloon word.
“Dit wys jou: Wanneer jy ’n movie maak en dit is goed, kan dit enige plek in die wêreld pa staan.
“Dit is ’n ongelooflike prestasie.”
Linda Notelovitz Goodall, ’n vervaardiger van Sweet Spot Content, ’n rolprentmaatskappy in Kaapstad, het gesê die regering moet meer doen om die plaaslike bedryf te ondersteun.
Volgens haar sal die vertoning die kollig op die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf plaas en waarskynlik meer vervaardigers na die land lok.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger