Affleck steeds aanbieder by Oscars
2013-02-15 12:50
Los Angeles – Die akteur Ben Affleck sal ‘n aanbieder by die Oscars wees, al is hy nie in die kategorie vir beste regisseur benoem nie, het die organiseerders Donderdag bevestig.
Die Hunger Games-ster Jennifer Lawrence, wat vir beste aktrise benoem is vir haar rol in Silver Linings Playbook, en Jessica Chastain, ook ‘n beste aktrise-benoemde vir haar rol in Zero Dark Thirty, sal ook by die seremonie aanbieders wees.
Affleck se gyselaarsdrama Argo, wat as beste rolprent benoem is, is een van die gunstelinge om die toekenning in te palm.
Die 40-jarige is egter nie as beste regisseur benoem nie, ondanks die feit dat hy die Bafta- en Golden Globe-toekenning vir beste regisseur vroeër vanjaar gewen het.
Ander sterre wat as aanbieders by die Oscars sal optree, sluit in Robert Downey Jr, Samuel L Jackson, Nicole Kidman, Reese Witherspoon, Meryl Streep en Charlize Theron.
Die Ted-ster Seth MacFarlane is die gasheer vir die groot aand.
Die Oscars vind op 24 Februarie plaas.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP