Affleck kry gesogte Hollywood-toekenning
2012-11-14 10:25
Washington, DC – Die akteur en regisseur Ben Affleck, ster van rolprente soos Daredevil en The Sum of All Fears, sal by die Santa Barbara- internasionale rolprentfees 'n spesiale toekenning ontvang vir sy bydrae tot die vermaakbedryf.
Affleck sal op 26 Januarie by die historiese Arlington-teater met die Modern Master-toekenning vereer word, het die vermaakwebwerf indiewire.com berig.
Die toekenning, wat in die verlede aan swaargewigte soos Christopher Plummer, James Cameron, Cate Blanchett, Clint Eastwood en George Clooney uitgedeel is, is die grootste prys by dié rolprentfees.
Dit is in 1995 geskep om individue te vereer "want ons kultuur verryk het deur hulle veelfasettige prestasies in die rolprentbedryf."
Affleck se derde rolprent wat hy as regisseur aangepak het, Argo, word wyd erken as 'n moontlike Oscar-wenner. Hy het dié rolprent ook vervaardig, en hy vertolk die rol van die hoofkarakter.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.