Adele vat 'n blaaskans
2011-12-11 11:30
Londen – Die 23-jarige Britse sangsensasie Adele wil 'n blaaskans neem voor sy haar volgende album opneem, het sy gesê.
Sy het vroeg in November 'n operasie aan haar stembande ondergaan.
Op die oomblik fokus Adele meer daarop om van haar operasie te herstel as om nuwe musiek te maak.
"Ek dink ek sal 25 of 26 wees wanneer my volgende album uitgereik word. Ek het nog nie eers aan my derde album gedink nie," het sy aan die tydskrif Billboard gesê.
Die sangeres wil hê haar nuwe musiek moet uitstekend wees en sy het gesê die nuwe komposisies vir haar derde album moet die beste moontlike materiaal bevat.
"Ek sal verdwyn en weer terugkeer met 'n album wanneer dit goed genoeg is. Daar sal geen nuwe musiek wees totdat ek gereed is en die musiek goed genoeg is nie."
Haar tweede album, 21, is vroeër vanjaar vrygestel.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter