Aanhangers ontstoke oor probleme by Chili Peppers-konsert
2013-02-04 10:22
Kaapstad – Woedende aanhangers van die Red Hot Chili Peppers het dié naweek hulle teleurstelling op sosiale netwerke duidelik gemaak weens swak organisering by dié groep se konsert in Johannesburg.
Facebook en Twitter het teen Maandagoggend gegons met klagtes oor lang rye, probleme met parkering en veiligheidsvrese.
Big Concerts het Saterdag dié konsert by Soccer City aangebied.
Baie mense het hulle tot die maatskappy se Facebook-blad gewend, waar hulle onder andere gekla het oor personeel se onwilligheid om te help.
Chris Pinto, een van die konsertgangers, het op dié blad gesê "die personeel was heeltemal onbeholpe. Ek het tot in die stadion gevorder, maar kon nie 'n sitplek kry nie omdat ek nie 'n armband gehad het nie. Hy ('n personeellid) het nie geweet waar om een te kry nie, en die mense by die hekke het ook nie geweet nie…"
Gitavia Reddy het gesê: "Gisteraand se RHCP-konsert was fantasties maar die organisering was skokkend. Parkering vir spyseniers [was] 'vol' volgens die wag, al het ek 'n kaartjie gehad. Die skandeerder by hek 20 het nie gewerk nie..."
Nog 'n konsertganger, Trudi Smit, het gesê "die skokkendste deel was om meisies te sien wat op 'n voetpad hurk om te urineer omdat hulle nie toilette kon vind nie."
Smit het ook gesê sy het vir haar veiligheid gevrees omdat die skare op pad na die busse voor 'n toe hek te staan gekom het. Verskeie mense is volgens haar teen die hek vasgedruk.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.