7de Laan-sterre gee woema aan fees
2009-11-24 09:02
Marlene Neethling
Kaapstad - Aanhangers van die gewilde sepie 7de Laan kan daarna uitsien dat sewe van die sterre van dié TV-reeks by die sewende Suidoosterfees betrokke sal wees.
Die sewende Suidoosterfees, waarvan Die Burger die naamborg is, vind van 26 tot 31 Januarie plaas.
Dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die fees, het gesê dit is blote toeval dat so baie van dié sepie se sterre by die fees betrokke is, maar hy is verheug daaroor.
“7de Laan is almal se gunsteling-sepie, dus sal baie mense na die fees toe wil kom om hulle te sien,” het hy aan Die Burger gesê.
Vinette Ebrahim (Charmaine in 7de Laan) sal soos verlede jaar weer deel van die fees wees. Sy sal saam met Theodore Jantjies (oftewel Xander) en 14 hoërskoolleerders van so ver as Port Elizabeth in die toneelstuk Vaselinetjie te sien wees.
Henry Mylne, regisseur van 7de Laan, behartig ook die regie van Vaselinetjie.
Ebrahim, wat aanstaande jaar vir die sesde keer aan die Suidoosterfees deelneem, het by navraag gesê dit is bloot toevallig dat soveel van hulle volgende jaar by die fees betrokke is.
“Dit is lekker om saam met iemand te werk wat jy ken en ek sien baie daarna uit. Mylne se regie op die verhoog is ook totaal anders as by 7de Laan,” het sy gesê.
Ander 7de Laan-akteurs wat by die fees te sien sal wees, is Christo Davids (Errol), wat die hoofrol gaan vertolk in Krismis van Map Jacobs. Dié opvoering sal vir die eerste keer op 26 Januarie opgevoer word.
Zane Meas (Neville) speel teenoor Neels van Jaarsveld, van Binnelanders, in die komedie Bure Oppie Bank, terwyl Terence Bridgett (Jerome) in die kabaret All Soaped Up te sien sal wees.
Denise Newman (Daleen) sal in een van die rolprente by die fees, The Sexy Girls, te sien wees.
- Die Burger