220 000 kyk na e.tv se Afrikaanse nuus
2010-07-23 08:11
Johannesburg - Die eerste uitsending van eNuus, kykNET se Afrikaanse bulletin, is deur 220 000 mense gesien.
Dit blyk uit syfers in verlede week se weeklikse peiling van TV-gehore (die sogenaamde Saarf Tams) van die Suid-Afrikaanse reklamenavorsingstigting (Saarf).
Dié bulletin is Sondagaand uitgesaai. eNews, e.tv se 24 uur-nuuskanaal, vervaardig die bulletin, wat Maandae tot Sondae daagliks 19:00 uitgesaai word.
kykNET se gemiddelde kyksyfer vir Maandae tot Sondae 19:00 is sowat 150 000, het Haddad Viljoen, publisiteitsbestuurder van kykNET, gesê.
“Dit is ’n baie goeie begin,” het Viljoen bygevoeg.
Volgens hom reageer kykers “baie goed” op eNuus. “Die bulletin se gehalte gaan verbeter soos ons aangaan.”
Intussen open die eNuus-bulletin spoedig ’n kantoor in Bloemfontein, berig Daniëlla du Plooy.
Andries Cornelissen, nuusredakteur van eNuus, het gister op ’n media-ontbyt in Johannesburg, waar die span bekend gestel is, gesê eNuus sal dan vier Afrikaanse nuusspanne in die land hê.
Die ander is in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad.
eNuus word weekdae 23:30 herhaal. Twee nuuslesers per uitsending bied dit aan. Freek Robinson is die hoofnuusleser.
Dié bulletin is die eerste mededinger vir die SAUK se Afrikaanse nuus sedert die openbare uitsaaier in die 1970’s met TV-uitsendings begin het.
Die SAUK se Afrikaanse nuus word ook weekdae 19:00 uitgesaai.
- Beeld