Vrou is swanger met verkeerde kind
2009-09-24 02:53
Toledo, Ohio - ‘n Vrou in Ohio verwag ‘n ander paartjie se kind nadat ‘n vrugbaarheidskliniek die verkeerde embrio in haar ingeplant het.
Soortgelyke gevalle het voorheen al in dagvaardings en onaangename hofsake ontaard, maar Carolyn Savage (40) sê sy sal die kind aan sy biologiese ouers gee nadat sy geboorte geskenk het.
Savage is veronderstel om binne die volgende twee weke geboorte te skenk. Sy sê die kliniek het die verkeerde embrio in Februarie vanjaar ingeplant.
Sy is tien dae daarna in kennis gestel dat sy swanger is met iemand anders se kind en sê sy het van die begin af besluit om die baba aan sy biologiese ouers te oorhandig ná die geboorte.
Volgens Savage het sy en haar man ‘n prokureur aangestel om seker te maak dat die kliniek verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar.
- Sapa