Zuma kuier by Madiba voor verkiesing
2011-05-17 16:57
Johannesburg - President Jacob Zuma het Dinsdagmiddag by die huis van oudpresident Nelson Mandela aangekom.
Die hekke is vir Zuma, in ‘n konvooi swart motors met blou ligte, oopgemaak, maar is vinnig weer agter hom toegemaak.
Die polisie en veiligheidswagte het buite die hekke in hul voertuie gebly.
Joernaliste en kameraspanne het reeds ‘n halfuur voor Zuma se aankoms die straat voor die huis volgestaan.
Mandela het in 1999 uit die politiek getree en in 2004 uit die openbare sfeer. Hy speel egter steeds ‘n sleutelrol in Suid-Afrikaanse politiek – sy naam word gebruik om diep emosies en patriotisme aan te wakker, by almal van ANC-lede tot opposisieleiers.
Helen Zille, DA-leier, het Saterdag aan voornemende kiesers in Khayelitsha gesê die DA is die enigste party wat Madiba se nalatenskap lewend kan hou.
“Ons werk hard daaraan om Madiba se visie te bou,” het sy gesê.
Mandela het Maandag ‘n spesiale stem by sy huis in Houghton uitgebring.
“Die eerste president van die vrye en demokratiese Suid-Afrika het met voorbeeld gelei. Ons moet nou, soos altyd, by hom leer en in ons miljoene uitgaan om te stem,” het Zuma ná die besoek gesê.
Zuma het gesê dit is "geen geheim" vir wie Mandela gestem het nie.
"Hy het vir sy organisasie (die ANC) gestem," het hy gesê.
Julius Malema, leier van die ANC-Jeugliga, het verlede maand Mandela se naam gebruik in ‘n toespraak waarin hy ondersteuners aangemoedig het om vir die ANC te stem.
“President Mandela is siek en julle wil nie bydra tot sy verslegtende toestand deur nié vir die ANC te stem nie.
“President Mandela sal nooit uithou as die ANC uit mag uit is nie,” het hy gesê.
Mandela (92) is in Februarie uit die hospitaal ontslaan nadat hy vir ‘n asemhalingsprobleem behandel is. Hy is na sy huis in Houghton geskuif, waar ‘n mediese span hom 24 uur per dag ondersteun.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA