Zille en Lekota gaan gou oor N-Kaap praat
2011-05-21 10:47
Kimberley. – Onderhandelings sal op nasionale vlak tussen die DA en Cope gevoer word oor die vorming van koalisies in die Noord-Kaap en elders.
Helen Zille, DA-leier, en Mosioua Lekota, Cope-leier, sal waarskynlik self by die onderhandelings betrokke wees.
Die DA en Cope het in drie munisipaliteite in die Noord-Kaap ’n gesamentlike meerderheid oor die ANC behaal, en in nog twee het die ANC en sy twee mededingers gelykop geëindig.
Na verneem word het die ANC reeds informeel voelers na Cope uitgesteek oor moontlike koalisievorming. Die aanduiding is egter dat Cope nie lus is hiervoor nie.
Cope hou Maandag ’n vergadering om oor aanbevelings aan die nasionale leierskorps oor die situasie in die Noord-Kaap te beslis, het Fezile Kies, Noord-Kaapse Cope-sekretaris, Vrydag by navraag aan Die Burger gesê.
Geen finale besluit is nog geneem nie.
Onderhandelings sal op nasionale -, provinsiale en streekvlak gevoer word.
Andrew Louw, Noord-Kaapse DA-leier, het geen doekies daaroor omgedraai dat die party nie koalisies met die ANC oorweeg nie.
Die DA wil langtermyn-ooreenkomste hê, het hy bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter.