Wegblystem dalk bepalend
2011-05-19 06:57
Pretoria - Die wegblystem is nou lotsbepalend vir Tshwane, Kaapstad en Nelson Mandelabaai, die enigste metrorade in opposisiepartye se bereik.
Dit het Woensdag gaandeweg duidelik geword voorspellings oor ’n moontlike groot wegblystem is besig om te realiseer.
Daar is Woensdagaand laat by die nasionale uitslagsentrum onder partystrateë en die beamptes van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gegis die nasionale stemsyfer kan selfs so laag as 42% wees. In 2006 was dit reeds ’n lae 48% en ’n lae stemsyfer vanjaar kan opposisiepartye bevoordeel.
Dié partye was Woensdagaand oorweldigend positief dat húl ondersteuners in groter getalle as in 2006 na stempunte in dié drie metro’s en Johannesburg opgeruk het. Die ANC se Jackson Mthembu het ook gesê dié party se kiesers het nie teleurgestel nie en “in hul miljoene” gaan stem.
Hoewel daar teen druktyd geen amptelike syfers was om stempatrone te bevestig nie, het opposisiepartye aangevoer daar was ’n merkbare afname in kiesersopkoms in tradisionele ANC-gebiede.
Hoewel daar geen ernstige voorvalle by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangemeld is nie, het partye gekla oor verskeie probleme landwyd soos ’n tekort aan stembriewe, stukkende skandeerders en swak opgeleide kiesbeamptes.
In Tshwane, waar die DA ’n sterk poging in gebiede soos Mamelodi, Atteridgeville en Soshanguve aangewend het, hou die ANC asem op oor die invloed van 29 onafhanklike kandidate. ’n ANC-ringkop het te kenne gegee dié groep hou veral gevaar in in ’n vesting soos Mamelodi.
Die DA meen opkoms in hul gebiede het die verwagtinge oortref maar ’n ommeswaai in die hoofstad kan net gebeur indien hul harde werk in swart gebiede vrugte afwerp. “As die stemsyfer enigsins laer as 42% is, is die ANC vir seker in die moeilikheid,” het ’n goed geplaaste bron gesê.
In Kaapstad blyk dit die stryd is feller as verwag is en die DA het hul teikens beduidend afwaarts aangepas. Die party se tradisionele ondersteuners het nie teleurgestel nie, maar die bruin stem was moeilik peilbaar.
’n Laer as verwagte opkoms in Mitchells Plain het ’n paar fronse in DA-geledere veroorsaak, terwyl ’n sterker as verwagte stemsyfer in plekke soos Nyanga en Khayelitsha voorspel word.
Nietemin is die DA van mening hy sal daar ’n volstrekte meerderheid behaal.
In teenstelling met Kaapstad, het ’n groot aantal bruin kiesers in Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) gaan stem. Smuts Ngonyama, Cope se burgemeesterskandidaat in dié metro, het kort voordat stempunte sou sluit, gesê baie kiesers staan weens logistieke probleme in lang toue.
Athol Trollip, DA-LP in die Oos-Kaap, sê dis onmoontlik om ’n voorspelling te waag. Ipsos-Marki-nor het Woensdag in ’n peiling bevind die ANC kan 50% van die stemme op hom verenig en die DA 42%.
Die neiging van hoë stempersentasies in opposisiewyke is in Johannesburg voortgesit. Aan die Wes-Rand het die DA ’n “ongehoorde hoë opkoms” geniet, het ’n ingeligte gesê.
In Alexandra, ’n ANC-bakermat, is die opkoms deur sommige party-agente as “laag” tot “baie laag” beskryf.
Mthembu het dit egter ontken en gesê die ANC verwag ’n selfs beter opkoms as in 2006. “Volgens ons inligting lyk ons baie goed.”
In die Vrystaat het slegs 177 593 oftewel 12,8% van 1 386 521 geregistreerde kiesers teen 15:00 gestem.
- Volksblad