Voorvaders sal teen oorlopers draai, sê Zuma
2011-05-12 18:59
Lichtenburg - Die voorvaders sal draai teen kiesers wat die ANC verlaat, het pres. Zuma Donderdag tydens 'n verkiesingsveldtog gesê.
"Die voorvaders sal hulle rûe op jou draai en jy sal vir ewig slegte geluk hê as jy die ANC ongelukkig verlaat," het hy in Phola, buite Lichtenburg, gesê.
Zuma het sy verkiesingsveldtog na die Noordwes geneem in die aanloop tot die plaaslike verkiesings op 18 Mei.
Hy het gesê stemme vir die ANC help om waarde tot die land toe te voeg.
"As jy stem vir 'n party wat gaan verloor, is jou stem vermors. Daardie stem help Suid-Afrika glad nie.
"Dis daardie tyd wat die burgers van die land gevra word om 'n besluit te maak oor wie die land moet regeer. Tot 1994 het ons geen reg gehad om te stem nie," het hy gesê.
Hy het gesê kiesers wat die ANC verlaat omdat hulle nie as verkiesingskandidate gekies is nie stel hulle eie belange bo dié van die ANC.
"Ek weet waarvan ek praat. Toe ek uit die perlement teruggeroep is het mense vir my gesê om 'n ander organisasie te stig, maar ek kon nie want ek verstaan die beleid van die ANC."
Inwoners van Phola het gesê hulle sal vir die ANC stem ondanks die stadige pas van vooruitgang in dié gebied.
"Ek glo steeds die ANC kan hulle beloftes nakom. Dis nie die ANC wat ons faal nie, maar die mense wat verkies word," het Presley Mooketsi, 'n inwoner, gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA